In Soetkraal was daar vir ’n tyd lank ’n klein skool en ’n winkel, maar dit was voordat ons soontoe getrek het. Die pad soontoe is baie swaar, met kort draaie en steil op- en afdraendes. As jy ’n vrag Crags-toe wou uitbring, het jy 16 osse voor die wa nodig gehad. Die osse was goed opgelei en almal het name gehad. Hulle het baie goed gereageer as hulle name aangeroep word. Van ons twee spanne osse se name was die agterosse Pronk en Skotsman, en die twee voorosse Dwingland en Platberg.
Elke draai in die wapad het ’n naam gehad, byvoorbeeld “Die Essies”, “Die Fontein”, “Die Omdraai”, “Die Rus”, “Die Maanhaar se Draai”, “Die Leer se Draai” en die “Wilde Ert Hoogte”. “Die Maanhaar se Hoogte” was die steilste en die swaarste, maar die osse was sterk, betroubaar en het veral hul staal gewys teen die Maanhaar uit. Spanwerk soos min. Wanneer dit begin reën, moes ons versigtig wees, want die pad word glad en ’n ongeluk gebeur gou.
Eendag het die wa se briek gebreek en die wa het die loop geneem afdraand af. Toe breek een van die agterwiele en toe stop die wa. Dit was skrikwekkend. Min of meer halfpad tussen die bosboustasie en Soetkraal gaan mens oor die top van die berg: dit is die Witberg. Vanaf die Witberg moes die “briekdraaier” sy storie ken. Die afdraende is steil en die pad baie klipperig en rof. Hy moes heelpad agter die wa stap, of noem dit “struikel”, “trap hoog en laag”, terwyl hy met die hand die briek vashou. Soms moes ons die osse uitspan as dit begin reën en die volgende dag die dinge verder vat. Wat ’n ontwrigting!
Jy kon nie met die wa en die span osse winkel toe ry vir dit en dat nie. Daarvoor moes jy die perd opsaal en vroeg ry sodat jy voor donker kon terugkom. Ons het baie kos geproduseer, maar jy het tog goed soos suiker, sout, rys, tee, koffie en kerse nodig gehad. Jy kon nogal ’n klompie goed in jou rugsak pak, sowel as in die saalsakke wat aan die saal vasgegespe was. Ons het altyd ’n perd of twee aangehou, perde wat goed opgepas was met goeie perdeskoene, “ysters”, aan. Jy moes sorg dat die suiker, meel en so aan nie nat word as dit dalk begin reën nie. Wanneer iemand winkel toe gegaan het, is daar die namiddag gekyk of die ruiter nog nie teen die berg sigbaar is op pad terug nie. Ons het groot sakke rou koffie gekoop en dit maar self gebrand en gemaal. As jy vir ’n tyd sonder koffie was, smaak dit baie lekker. Met die perd kon jy slegs klein hoeveelhede koop, want dit maak die perd moeg as hy te swaar gelaai is.
Die mense het toe nog vir mekaar omgegee. As die wa die slag oor die berg winkel toe gaan, is benodighede vir die bure saamgeneem of saamgebring. Die rokers het ook maar sonder rookgoed geraak, en dan was dit lekker as iemand ’n bietjie tabak saambring.
As mense by ons huis kom kuier het, is allerhande planne gemaak om hulle langer te laat bly. So het ek en my vrou en die kinders eendag beplan om op ’n sekere dag terug te gaan werk toe. Toe ons die oggend wil ry, is daar skielik ’n varkie geslag en moes ons eers ’n dag later terugkom. Hulle wou jou net graag langer daar hou. Soms is daar ’n hoender geslag of brood gebak. Omdat Soetkraal so ontoeganklik was, het die inwoners nie baie besoekers gekry nie, maar as daar besoekers gekom het, is hulle soos belangrike mense ontvang en behandel. Die mense het graag die byeneste se heuning uitgehaal en karie gemaak. Karie is soos goeie bier en dit maak mense vrolik. Moet net nie te veel drink nie: een glasie of ’n koppie vol was genoeg.
Oom Salie’s memories of Soetkraal. First published in the Redford Conservancy newsletter, January 2011.